Ikarus

Ikaus

Kersfees. Die tyd van vrede, vreugde en liefde.

Maar nie in die Kaap van Storms nie. Op 17 Desember spoel die lyk van Ernst Richter oop in die duine anderkant Parklands dié Ernst Richter, berugte Internet-entrepreneur, baas van die omstrede webwerf Alibi.co.za wat 'n maand gelede so onverklaarbaar en sensasioneel verdwyn het.

Niemand wil die saak hê nie. Nie die SAPS in Tableview of Stellenbosch nie, want hulle ken moeilikheid as hulle dit sien, baie dankie. Media-moeilikheid. Mannekrag-moeilikheid.

Druk van bo, binnegevegte, politiek en onoplosbare moord moeilikheid. Daarom gee hulle dit so graag aan vir die Valke.

Selfs onder normale omstandighede sou Bennie Griessel en Vaughn Cupido gesukkel het. Want by Alibi.co.za lieg almal soos tannetrekkers. En die lys van mense wat vir Ernst Richter baie graag met hul kaal hande sou wou verwurg, raak net langer.

Maar omstandighede is nie normaal nie. Want Griessel het weer aan die suip gegaan. En Cupido is verlief. Op een van die hoofverdagtes.

En op 24 Desember begin 'n jong wynboer bieg voor 'n advokaat in Kaapstad, wat die hele saak op sy kop keer.

Kersfees sal nooit weer dieselfde wees nie.

 

Die resensente s ...

  • Joan Hambidge op FMR: (Lees die volledige resensie hier)

  • Uiteindelik lewer hierdie boek kommentaar op ons samelewing waar moord en doodslag deel van die bestaan geword het. En daar is genoegsame toespelings wat die boek begrond in die werklikheid van die hier en nou. Ons is deesdae almal sitkamer-speurders wanneer 'n moordverhoor gebeeldsaai word, en kenners van dolus eventualis.

    Ons is in 'n Bennie Griessel-dossier. Met Ikarus wat te hoog gevlieg het ...

    Die roman beweeg die hele tyd op twee vlakke. Deon Meyer slaag daarin om al die balle in die lug te hou in hierdie fassinerende speurverhaal.

    Wie het geskryf die vyande van wyn is hulle wat dit nie ken nie? En wt drink Bennie Griessel after all?

    Gee vir Deon Meyer 'n Bell's!

  • Elmari Rautenbach in Rapport: (Lees die volledige resensie hier)

  • Waarmee Meyer veral wys hy's meester van sy ambag, is sy karakteruitbeelding. En nêrens meer so nie as wanneer jy sien hoe 'n karakter onder sy vingers blom.

    In Ikarus is dit veral die randkarakters se beurt. Daar is 'n warmte en diepte, maar ook 'n sprankeling wanneer hy die nou al bekende lede van die Valke méns maak: Bones, die syferman, Mooiwillem met sy slag met vroue, Lithpel Davids, Uncle Frankie, Vusi wat sy ouers in Gugs onderhou. Ook die forensiese ondersoekers Dik en Dun "the Eagles, to your Hawks" wat soos 'n gedugte span skerpskertsers die draak met alles en almal steek.

    Bowenal is hierdie egter die storie van Vaughn Cupido ... Met Bennie uit die prentjie is hy immers ondersoekleier. En hy wonder vir die eerste keer oor alleenwees en verantwoordelikheid aanvaar.

    Maar dit keer hom nie om sy prate te praat nie (so outentiek soos trouens elke ander karakter), soos net hy kan. En in 'n onbewaakte oomblik blaker hy aan "ou Benna" uit, die jin tot sy jang: " ... ma' eintlik, die heart of the matter is, ek kan nie Vaughn the Terrible wees as jy nie Benna the Sober is nie. Dis soos daai line in die movies: You complete me." Met Bennie wat droogweg antwoord: "En nou gaan jy my soen?"

    Cupido en Griessel. Wat 'n paar. Wat 'n span. Want op die ou end is dit mense wat 'n storie maak. En hierdie twee hou kers vas by die bestes in wêreldmisdaadfiksie.